Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Verdeelde Aandag

Verdeelde aandag ontstaan wanneer van ons verwag word om terselfdertyd twee (of meer) take uit te voer en aandag vereis word vir die uitvoering van albei (of al die) take. Voorbeelde sluit in motorbestuur terwyl ‘n gesprek met ‘n passasier gevoer word, of aandete eet terwyl jy nuus kyk. Wanneer van mense verwag word om meer as een taak gelyktydig uit te voer, verswak die gehalte van uitvoering van ten minste een van die take dikwels. Daar word oor die algemeen saamgestem dat mense ‘n beperkte vermoë het om inligting te prosesseer. Wanneer verskeie take tegelykertyd uitgevoer moet word, kan die eise van die take die prosesseingsvermoë oorskry.

Navorsing het ‘n verband getoon tussen leesprobleme en leemtes in verdeelde aandag. Byvoorbeeld, studies het aangetoon dat disleksielyers meer foute maak en meer tyd nodig het vir Stroop-take as nie-disleksielyers.

In sielkunde verwys Stroop-effek na ‘n verskynsel waar dit makliker is om die kleur van ‘n woord te sê as dit by die semantiese betekenis van die woord pas. Byvoorbeeld, wanneer die naam van ‘n kleur (bv. “blou”, “groen” of “rooi”) gedruk word in ‘n ander kleur as die kleur se naam (bv. die woord “rooi” in blou i.p.v. rooi ink gedruk), neem dit langer om die kleur van die woord te noem en is foute meer geneig om in te sluip as wanneer die kleur van die ink pas by die naam van die kleur. Stroop-take word gewoonlik gebruik om verdeelde aandag te toets.

Die goeie nuus is dat verdeelde aandag met oefening kan verbeter. Spelke, Hirst en Niesser het die akkuraatheid en responstyd van deelnemers wat kortverhale gelees en dikteewoorde neergeskryf het, getoets. Die deelnemers se aanvanklike prestasie was baie swak wanneer beide take tegelykertyd uitgevoer is. Maar nadat die deelnemers die take vir vyf dae per week, vir ‘n totaal van 85 sessies geoefen het, het hulle prestasie in albei take verbeter.