Sensories-Motoriese Stadium
(J. Piaget) Die eerste stadium van ontwikkeling, dit wil sê die tydperk 0 tot 2 jaar, wat die pre-operasionele stadium voorafgaan. Gedurende hierdie periode leer die kind om sy sensoriese-motoriese aktiwiteite te koördineer, om ‘n mate van kontrole oor sy omgewing uit te oefen, en om tussen sy eie liggaam en die omgewing te onderskei. Die stadium word verdeel in substadia, gekenmerk deur:
- Die gebruik van reflekse, bv. suig (0-1 maand);
- Primêre sirkulêre reaksies (1-4 maande), waar handelinge herhaal word wat op die kind se eie liggaam betrekking het (bv. om die kop in die rigting van die tepel te draai, of duimsuig);
- Sekondêre sirkulêre reaksies (4-8 maande), waar die kind leer om handelinge wat ‘n uitwerking op die omgewing het, te herhaal (bv. om ‘n ratel te skud);
- Koördinasie van sekondêre schemata (8-12 maande), waar die kind leer om doelgerigte handelinge uit te voer (bv. om ‘n kussing te verwyder om ‘n pop wat daaronder weggesteek is, te kry);
- Tersiêre sirkulêre reaksies (12-18 maande), waar die kind in staat is om te eksperimenteer met verskillende gedragswyses ten einde ‘n doel te bereik. Nuwe handelinge word met variasies herhaal;
- Die ontdekking van nuwe handelinge deur denke eerder as deur eksperimentering (18-24 maande), waar die kind tekens van geheue en beplanning toon.
|