Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Ouditiewe Diskriminasie

Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om tussen spraakklanke te onderskei.

  • ‘n Kind met ouditiewe diskriminasieprobleme sal dit moeilik vind om tussen klanke wat baie eenders klink, te onderskei, bv. v en w, k en t, h en b.

  • Hy sal ook probleme ondervind om te onderskei tussen woorde wat baie eenders klink.

  • Die kind met ouditiewe diskriminasieprobleme sal dit ook moeilik vind om ritmiese patrone na te klop. Hy kan nie hoor watter die kort en watter die lang klanke is nie. Omdat die verdeling van woorde in lettergrepe in ‘n groot mate op ritmiese onderskeiding berus, sal hy heel waarskynlik hiermee ook probleme ondervind.

  • Swak ouditiewe diskriminasie kan ook die gebrekkige of verkeerde uitspraak van woorde en letters tot gevolg hê, bv. lispel en die vervanging van die ‘r’-klank met ‘n ‘g’-klank (ghooi in plaas van rooi).

  • Ouditiewe omkering kan ook een van die manifestasies van ‘n swak ouditiewe diskriminasievermoë wees, bv. sak in plaas van kas. In hierdie geval kan die kind nie tussen eind- en beginklanke onderskei nie en gee hy dus die klanke wat wél onderskei is, in verkeerde volgorde weer.

  • In die laaste plek sukkel bogenoemde tipe leerling met ouditiewe sintese, of die samestelling van woorde; hy kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.