Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

‘Franchise’ Geleentheid: Onderrig
met ‘n Verskil

Edublox-leerklinieke vir kinders is nou landwyd as ‘n franchise beskikbaar. Hierdie klinieke met hul deeglik getoetsde leerprogramme bied aan Suid-Afrikaners die geleentheid om ‘n uitstekende inkomste te genereer en terselfdertyd ongekende werksbevrediging te ervaar.

Edublox is ‘n wetenskaplike leer- en leesprogram wat leerprobleme by skoolkinders suksesvol aanspreek. Volgens opvoedkundiges help die Edublox-leerklinieke nie alleen leerders wat met ernstige leerprobleme worstel nie, dit help ook suksesvolle leerders om nóg beter op skool te presteer.

Die programme wat vandag in die Edublox-klinieke gebruik word, is voorafgegaan deur dertig jaar se intensiewe navorsing en is deeglik in die praktyk getoets.

“Hierdie deeglike voorbereiding het gesorg dat ons klinieke reeds van die eerste dag af ‘n stroom positiewe getuigskrifte van ouers ontvang,” sê Henk du Plessis, direkteur van Edublox.

“Edublox sorg nie net vir ‘n goeie inkomste nie, maar laat jou ook diep werksbevrediging ervaar. Ons Edublox-klinieke is plekke waar kinders se lewens positief en kragtig omvorm word en juis dit het gemaak dat ons nou met ‘n intensiewe franchise-veldtog begin het om meer klinieke landwyd te vestig.”

Volgens Du Plessis bied die Edublox-programme ‘n suksesvolle oplossing op een van vandag se grootste onderwysvraagstukke: kinders se onvermoë om suksesvol te leer omdat hulle leesvermoë beperk is. Daar is tans meer as 7 miljoen leerders in Suid-Afrikaanse laerskole. Kenners sê dat minstens 20% van hierdie 7 miljoen leerders met ernstige leer- en leesprobleme worstel en dat ruim 40% van alle laerskoolleerders se leesvermoë onder die aanvaarbare standaard is.

Indien die Edublox-klinieke net 10% van die 20% leerders wat onder ernstige leerprobleme gebuk gaan kan bereik, kan 140 000 leerders gehelp word.

Sommige van die Edublox-programme word na agt lande uitgevoer en is besonder positief ontvang.

‘n Ouer skryf uit Nieu Mexico in die VSA: “My dogtertjie was binne ‘n maand nadat sy met die program begin het, reeds in staat om enkele woorde korrek te spel. Toe het haar vermoë om te skryf en reg te spel skielik hand oor hand begin versnel. Ses maande gelede was haar spelvermoë nog op graad een-vlak. Nou is dit reeds op graad ses-vlak. Vir ons, wat so lank gesukkel het om haar leervermoëns te verbeter, grens hierdie dinge aan ‘n wonderwerk!”

‘n Australiese remediërende onderwyser laat weet dat een van haar leerlinge, wat oor ‘n tydperk van drie jaar geen vordering in sy skoolwerk getoon het nie, binne ‘n jaar nadat hy met ‘n Edublox-program begin het, tot die eerste plek in sy klas gevorder het.

Lorinda Appelgrein van Suid-Afrika vertel dat sy en haar man op ‘n oueraand vroeg in 2009 die skokkende nuus ontvang het dat hul seuntjie, Christian, volgens sy klasonderwyser waarskynlik nie daardie jaar graad drie sal deurkom nie. Christian het te stadig gewerk en hy kon nie werkopdragte uitgevoer kry nie.

“Dit was uiteraard vir ons ‘n baie groot skok. Niemand het vantevore vir ons gesê dat hy ‘n probleem op skool het nie. Ek en my man het besluit ons moet iets doen om Christian te help. Ons het op die internet begin rondsoek en op Edublox afgekom. Hy het in Mei 2009 by ‘n Edublox-kliniek begin. Onnodig om te sê, Christian het toe nie graad drie gedruip nie!”

Karin Grobler vertel dat haar dogtertjie, Ariatha, kwalik vyf maande gelede nog ‘n stil, teruggetrokke kind was wat hoegenaamd nie van lees gehou het nie en wat haar skoolwerk langtand gedoen het.

“Oor die afgelope vyf maande het Ariatha verander in iemand wat ‘n boek feitlik nie kan neersit nie, wat hééldag net wil lees! Haar eertydse onvermoë om te konsentreer is skoonveld, haar ongeorganiseerde handskrif met sy groot bolletters het na ‘n stabiele, meer gefokusde handskrif verander en sy loop nou oor van selfvertroue!

“Daar is ‘n rustigheid in ons dogter waaroor ons ewig dankbaar sal wees!”

Die internet en kameras stel die Edublox-hoofkantoor in Pretoria in staat om te verseker dat positiewe resultate deurgaans behaal word. Die konsessiehouer se aanbiedings word gereeld geevalueer en die individuele vordering van leerders by die betrokke kliniek word ook met behulp van gekoppelde rekenaars direk deur die hoofkantoor gemonitor.

Meer besonderhede oor hierdie belangrike nuwe opvoedkundige franchise kan by 012-345-1480 verkry word.

April 2010