Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Logiese Denke Moet Geleer Word

Jy het vier blokkies voor jou, 'n swarte, 'n rooie, 'n witte en 'n groene. Jy moet twee van hulle wegvat. Jy mag nie rooi, swart en wit saam wegneem nie. Jy mag ook nie wit, groen en rooi saam wegneem nie. Watter twee blokkies mag jy wegvat? Om hierdie raaisel te kan oplos moet jy logies kan dink.

Logiese denke is die proses waardeur 'n mens redenering konsekwent en deurlopend gebruik om tot 'n besluit te kom. Probleme of situasies waarbinne logiese denke plaasvind verg struktuur, verbande tussen feite, en opeenvolgings van beredeneringe wat uiteindelik op 'n sinvolle gevolgtrekking uitloop.

Die grondslag van logiese denke is opeenvolgende denke, sê Dr Karl Albrecht in sy boek Brain Building. Dit is 'n verloop wat insluit dat die vernaamste idees, feite en gevolgtrekkings wat 'n bepaalde probleem of probleemsituasie omvat, soos in 'n ketting aanmekaargeskakel word — 'n aaneenskakeling wat as't ware 'n betekenis van sy eie verwerf. Om logies te dink beteken om in stappe te dink.

Daar bestaan duidelike bewys daarvoor dat spesifieke opleiding in logiese denke mense "slimmer" maak. Sodanige opleiding stel kinders in staat om ontwykende antwoorde soos "ek weet nie", of "dit is te moeilik", te vermy. Dit bemagtig hulle om dieper te delf en beter begrip te verwerf oor hoe om by 'n oplossing van 'n probleem uit te kom.

Logiese denke is ook 'n belangrike grondvaardigheid van wiskunde, aangesien wiskunde opeenvolgende denke vereis. "As jy nie 'n sekere konsep, feit of prosedure begryp nie, kan jy nie hoop om ander konsepte, feite of prosedures wat daarop volg te begryp nie," sê Dr Albrecht. "Byvoorbeeld, om breuke te verstaan moet jy eers deling verstaan. Om eenvoudige vergelykings in algebra te verstaan vereis dat jy eers breuke verstaan."

Logiese denke is nie 'n genetiese gegewe nie, maar 'n vaardigheid wat geleer moet word, sê hy.

By Edublox lei ons leerders op om logies te kan dink.