Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Langtermyngeheue

Soos in die geval van sensoriese berging, beskik langtermyngeheue oor ‘n groot kapasiteit. Die informasie in langtermyngeheue is goed georganiseerd en relatief permanent. Dit is gesif, herroep, gekodeer en geberg as onderdeel van ervarings wat onthou kan word en wat van tyd tot tyd herrangskik word wanneer nuwe materiaal bygevoeg word. Die langtermyngeheue is dus nie staties nie maar ‘n dinamiese proses wat voortdurend aan die verander is om te voorsien vir die invloei en berging van nuwe inligting.

Langtermyngeheue kan rofweg met die katalogusstelsel van ‘n biblioteek vergelyk word. Deur die katalogusstelsel van ‘n biblioteek is die inligting beskikbaar mits die regte prosedure gevolg word. Indien die regte prosedure egter nie bekend is nie en nie aangewend word nie, is dit vanselfssprekend moeilik om die verlangde inligting te bekom. Dit is so dat inligting wat deur enige van die sintuie bekom is, in die langtermyngeheue geberg kan word. ‘n Belangrike aspek van berging in die langtermyngeheue is egter die organisasie of rangskikking van die nuwe materiaal saam met bestaande materiaal. In die algemeen werk dit dan ook so dat bekende materiaal makliker geassimileer kan word as onbekende materiaal aangesien die bekende materiaal baie makliker in ‘n spesifieke kategorie geplaas kan word. Die psigologiestudent sal relatief maklik daarin slaag om nuwe psigologiese feite in die langtermyngeheue geplaas te kry. Indien dieselfde student geen kennis van geologie het nie, en hy sou sekere geologiese feite moes leer, sal hy laasgenoemde nie net moeilik aanleer nie, maar ook nie maklik na ‘n maand kan herroep nie, aangesien hy dit nie aan bekende informasie in die langtermyngeheue kan koppel nie.

Langtermyngeheue is een van die vele vaardighede wat by Edublox geoefen en sodoende verbeter word.

Bron: Louw, D A, Inleiding tot die Sielkunde (Johannesburg: McGraw-Hill Boekmaatskappy, 1982).