Kyk
Daar is gevind dat twee persone tydens ‘n gesprek vir 25-75% van die tyd vir 1 tot 10 sekondes op ‘n keer na mekaar kyk. Verder is ook gevind dat mense ongeveer tweemaal meer rondkyk terwyl hulle luister as terwyl hulle praat. Argyle en Dean postuleer dat kyk na ‘n persoon ‘n aanduiding van intimiteit is. Hulle vind ook dat ‘n persoon meer na iemand kyk wanneer hy verder weg is as wanneer hy naby is. Exline en Winters vind ook dat persone meer na mense kyk waarvan hulle hou as na dié waarvan hulle nie hou nie. Die gesigsuitdrukking wat met die kyk gepaard gaan, speel egter ‘n baie belangrike rol. Die terugvoerwaarde van kyk is besonder belangrik en hieruit kan die spreker baie waardevolle inligting verkry. Neilson vind dat ‘n persoon geneig is om weg te kyk as hy begin praat, waarskynlik om aftrekking van die aandag te voorkom.
Fast wys daarop dat die oë nie poorte tot die siel is nie, maar bloot fisiologiese eindpunte. Die oë word egter die meeste gebruik om deur middel van subtiele nuanses in die kyk, inligting oor te dra. So is die duur van ‘n kyk ook belangrik en staar is hoofsaaklik bedoel vir nie-menslike dinge. Deur ‘n persoon aan te staar, word sy “menslikheid” hom ontneem. Die duur van ‘n kyk is sodanig dat die persoon gesien word, maar nie aangestaar word nie.
|