Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Korttermyngeheue

Die retensie van materiaal, gewoonlik in die vorm van woorde, vir tydperke van ‘n paar sekondes of hoogstens ‘n minuut, word korttermyngeheue genoem. Dit is meer selektief en ietwat meer permanent as sensoriese berging. Die kapasiteit van korttermyngeheue wat as die geheuespan bekend staan, is baie meer beperk as die van sensoriese berging.

Die geheuespan is die getal items (soos woorde of syfers) wat ‘n persoon foutloos en in die korrekte volgorde kan herhaal nadat hy dit net eenmaal gehoor of gelees het. Die meeste mense se geheuespan is slegs vyf tot nege items.

‘n Praktiese voorbeeld van korttermyngeheue word daagliks waargeneem wanneer ‘n mens die telefoon gebruik. Wanneer jy die telefoonnommer naslaan, berg jy dit in jou korttermyngeheue. Terwyl jy nou die nommer skakel, kan jy dit onthou, maar vir langer tye slegs solank jy daarop konsentreer en niks anders jou aandag vereis nie. Die rede is dat die inhoud van korttermyngeheue gedurig herhaal moet word, so nie gaan dit verlore. Indien iemand met jou sou praat terwyl jy besig is om die telefoonnommer op hierdie wyse te bewaar, moet jy die spreker ignoreer. As jy dit nie doen nie, sal jy die nommer vergeet. Sodra jy die nommer geskakel het, vergeet jy dit gewoonlik onmiddellik daarna.

Die beperkte kapasiteit en tydelike aard van korttermyngeheue word ook ervaar deur ‘n persoon wat na ‘n winkel gaan en dan nie al die items kan onthou wat hy wou aankoop nie. Dit kan gebeur ten spyte van die feit dat die persoon vir homself by die huis oor en oor herhaal het wat hy moes koop en baie seker was dat hy alles sou onthou. Indien hy deurentyd, terwyl hy oppad na die winkel was, al die items vir homself herhaal het, sou hy wel almal onthou het.

Uit die voorbeelde wat hierbo genoem is, blyk dit dat korttermyngeheue heel dikwels net gebruik word om ‘n doelwit van verbygaande aard te dien. Die persone wat die telefoonnommer nageslaan het, hoef waarskynlik nooit weer die betrokke nommer te skakel nie. Verder is dit vir ‘n persoon ook van geen belang watter items hy die vorige dag by ‘n allesmark gekoop het nie. Indien die telefoonnommer wat hier ter sprake is egter dié is van ‘n persoon wat mettertyd ‘n persoonlike vriend word, word die nommer na die volgende stadium van geheue, naamlik langtermyngeheue, verskuif. Dit is belangrik dat materiaal of informasie wat van die korttermyngeheue na die langtermyngeheue oorgeplaas moet word, dikwels herhaal of herroep moet word. Indien die informasie nie voldoende herhaal word nie, sal dit uit die korttermyngeheue verdwyn voordat dit in die langtermyngeheue gevestig is en dit kan dan nie weer herroep word nie.

Korttermyngeheue is een van die vele vaardighede wat by Edublox geoefen en sodoende verbeter word.

Bron: Louw, D A, Inleiding tot die Sielkunde (Johannesburg: McGraw-Hill Boekmaatskappy, 1982).