Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Kind Lees Swak as Hy Nie Links en Regs Goed Ken.
'Nie Fout met Disleksielyer se Brein'

Hierdie artikel het verskyn in Volksblad op 15 Oktober 2004.

PRETORIA. — Kinders wat nie die verskil tussen links en regs goed ken nie, sukkel om te lees.

Dit klink dalk na 'n oorvereenvoudigde stelling, maar dit is probleme soos dié wat tot gevolg het dat talle kinders se leesvermoë uiters swak is, meen dr. Jan Strydom, Pretoriase opvoedkundige en direkteur van die sentrum vir disleksie.

Vandeesmaand is internasionale disleksie-bewusmakingsmaand.

Strydom meen een van die grootste uitdagings is om wanopvattings rondom disleksie die nek in te slaan. "Die eerste ding wat ek vir mense sê wat by die sentrum kom aanklop, is dat niks met hulle of hul brein verkeerd is nie."

'n Kenmerk van disleksie is letteromruiling soos byvoorbeeld b en d.

Strydom sê die grootste rede waarom mense sogenaamde disleksie het of sukkel om te lees, is omdat die "voorbereidingswerk" vir lees nie gedoen is nie.

Dit is byvoorbeeld om kinders eenvoudige vaardighede te leer soos die verskil tussen links en regs, voorgronden agtergrond, vormherkenning en posisie in ruimte.

"Sowat 50 jaar gelede was daar nie 'n ding soos iemand wat nie kon lees nie. Dit is iets wat in die jare sestig kop uitgesteek het toe sekere Amerikaanse opvoedkundiges die idee aan ouers begin verkoop het dat hulle nie hul kinders moet leer nie en dat dit eerder die taak van onderwysers is."

Strydom sê hy sien die afgelope 30 jaar dat hy met disleksie werk 'n toenemende agteruitgang in kinders se leesonderrig.

Hy verwerp die opvatting wat baie ouers het dat hul kinders nie van lees hou nie. "Enige kind wat kan lees, wil lees."

Strydom het 'n program ontwikkel om kinders se leesvermoë te verbeter en om ouers leiding te gee wat hulle kan doen.

Sowat 2% van Amerikaners was in 1910 ongeletterd. In sommige state is dit nou sowat 50% van die bevolking.

"Dit gaan nog nie so erg in Suid-Afrika nie. Maar ons is vinnig op pad daarheen, omdat al hoe meer Amerikaanse idees oor onderwys en leer, wat nie noodwendig goed is nie, hier toegepas word," meen Strydom.