Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Herwinning van Informasie

Nie alles wat in die geheue geberg is, kan met gemak herroep word nie. Die vermoë tot herwinning is ongelukkig veel kleiner as die vermoë tot berging. Daarby is herwinning ook nie altyd onmiddellik moontlik nie. So kan ‘n persoon sy bes doen om ‘n feit dadelik te onthou as hy dit nodig het en tot sy ergernis vind dat die feit in die bewussyn opduik as dit reeds te laat is. Daar kan egter nie sonder meer beweer word dat ‘n feit heeltemal verlore gegaan het as dit nie herroep kan word nie.

Penfield het gevind dat pasiënte tydens breinoperasies gebeure en feite uit die verlede met verbasende helderheid kan onthou. Dit gebeur wanneer dele van die brein elektries gestimuleer word. So het een dame gerapporteer dat sy ‘n orkes hoor speel as ‘n seker deel van haar brein gestimuleer word. Haar herroeping van die musiek was so duidelik dat sy daarvan oortuig was dat ‘n band of plaat in die operasiesaal gespeel is. Dit bewys dat die besondere ervaring glad nie geheel en al vergeet of verlore was nie maar wel iewers in die brein geberg was. Dit wil dus voorkom asof langtermyngeheue min of meer permanent is en wanneer verwys word na die agteruitgang van langtermyngeheue, daar in werklikheid verwys word na probleme met die herwinning van materiaal. Daar kan dus beweer word dat sekere inligting in die geheue beskikbaar is, terwyl ander slegs toeganklik is. Dié wat beskikbaar is, kan sonder moeite herroep word, terwyl die toeganklike materiaal dikwels nie so maklik bekom kan word nie omdat die prosedure of roete om dit te bereik ongewoon mag wees.

Die werk van Penfield is ‘n heeltemal onkonvensionele metode waardeur feite uit die langtermyngeheue herwin kan word, asook die tegniek van vrye assosiasie wat deur psigoanaliste gebruik word om ervarings uit die kinderjare na vore te bring.

Bron: Louw, D A, Inleiding tot die Sielkunde (Johannesburg: McGraw-Hill Boekmaatskappy, 1982).