Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Sentrum Maak Deurbraak met Leesprobleme.
Kursus Bring Groot Verbetering

Hierdie artikel het verskyn in Beeld op 28 Oktober 1992.

TWEE weke in die Julie-vakansie het 'n groot verskil gemaak in die lewe van Gerhard Niemand (10) van Pretoria. 'n Blitskursus vir kinders met leesprobleme wat hy in dié tyd bygewoon het, het sy leesvaardigheid van gr. 1-vlak tot st. 5-vlak opgeskuif. Daarby het sy leesbegrip ook met 20 persent verbeter.

En vir Gerhard, 'n st. 2-leerling aan die Laerskool Jopie Fourie, het dit nuwe wêrelde oopgemaak. Skoolwerk was altyd 'n probleem, maar nou het hy skielik net 3's op sy rapport. En daarby lees hy graag. ''Ek kan nou lekker glad en vinnig lees,'' het hy gesê.

Sy ouers, mnr. Nico en mev. Alta Niemand, sien ook 'n groot verskil raak. ''In alle opsigte gaan dit beter,'' het sy ma gesê.

Die kursus was 'n eerste poging van die Sentrum vir Disleksie om kinders met leesprobleme in 'n kort tydjie te help. In die verlede is reeds groot sukses behaal met 'n langtermynkursus, het dr. Jan Strydom, navorser van die sentrum, gesê.

Aangesien dit die eerste blitskursus was, het die sentrum vooraf gemeen dat 'n gemiddelde verbetering van ses maande in die kursusgangers se leesvaardigheid fantasties sou wees.

Noudat al die toetsresultate verwerk is, blyk dit egter dat 'n gemiddelde verbetering van 'n jaar en vier maande bereik is. In vergelyking hiermee is die beste verbetering wat dr. Strydom in die literatuur kon opspoor, 'n verbetering van twee jaar by kinders wat 'n kursus in Engeland bygewoon het. Dié kursus het 'n jaar geduur, wat beteken dat die kinders in dié tyd net een jaar ingehaal het.

En hulle het boonop intensiewe individuele aandag gekry, terwyl die sentrum se kursus in klasgroepe aangebied is.

Daarby het die sentrum se kursusgangers se leesbegrip ook met gemiddeld 10 persent verbeter.

Die blitskursus gaan nou verder verfyn word met behulp van rekenaarontledings wat presies bepaal hoeveel elke oefening bydra tot die verbetering van leesvaardigheid.

Dit kan beteken dat nog groter sukses met die volgende blitskursus in die Desembervakansie in Pretoria behaal kan word.