Tuisblad I Meer Oor Ons I Suksesverhale I Artikels I 'Franchise' I Kontak Ons |
Tuisblad ![]() ![]() ![]() |
ADHD Medikasie![]() ‘n Hoofpyn, soos meeste ander liggaamlike pyne en siektes, is meestal met die inname van die een of ander medikasie herstelbaar. Voorstanders van die siening dat ‘n leergestremdheid ‘n liggaamlike probleem is, is derhalwe gewoonlik ook voorstanders van chemiese ingryping spesifiek psigo-aktiewe stimulante vir hierdie “gestremde” kinders. Onder hierdie stimulante tel Ritalin (methylphenidate hydrochloride), Dexedrine (dextroamphetamine), Cylert (magnesium pemoline) en verskeie ander. Die meeste van die gebruikers is tussen ses en dertien jaar, alhoewel sommige so jonk as twee is en ander reeds verby adolessensie. Een van die besware teen stimulante is dat daar dikwels newe-effekte is, waarvan die algemeenste is: verminderde eetlus, ernstige gewigverlies, slaaploosheid, maagpyne, bednatmaak, prikkelbaarheid en duiseligheid. ‘n Toenemende aantal verslae dui daarop dat stimulante ook ernstige psigologiese nagevolge kan hê. Schrag en Divoky vertel van ‘n sesjarige dogter wat na ‘n week op Ritalin bisarre gedrag begin toon het. Sy het in ‘n kas weggekruip en haarself in ‘n hoekie ineengekrimp, dooierig en stom geword, dan weer onsamehangend begin brabbel, voor haar uitgestaar en haar liggaam in eienaardige verstarde posisies verwring. In ‘n ander geval het ‘n tienjarige seun in sy slaap begin skreeu na sy tweede dag op Ritalin, toe méér prikkelbaar, méér hiperaktief en fisies aggressief teenoor jonger kinders geword, en gesê hy het “gevoel asof hy alles uitmekaar wou skeur”. Hy het diere gesien wat om ‘n maalstroom loop, kos het ‘n snaakse smaak gehad en sy mond het droog geword. Later het hy swak en depressief geword. ‘n Sesjarige seun wat “goed aangepas was behalwe vir sy hiperaktiwiteit” het visuele en taktiele hallusinasies begin toon, en het gesien en gevoel hoe “wurms oor hom loop”. In Massachusetts het prokureurs ‘n jongeling verdedig wat aangekla is nadat hy ‘n klasmaat met ‘n bofbalkolf doodgeslaan het. Hulle verweer was dat onttrekking van Ritalin die seun meer aggressief gemaak het. Behalwe korttermyn newe-effekte, is daar ook rooi ligte in die literatuur oor die langtermyn newe-effekte wat stimulante kan hê. Daar is aanduidings dat stimulante groei vertraag en tweedens lei tot psigologiese afhanklikheid. Daniel Safer van die John Hopkins Universiteit se Mediese Skool rapporteer dat relatief hoë dosisse van Dexedrine en Ritalin, wat oor ‘n tydperk van slegs maande geneem word, gewigstoename en groei in lengte permanent kan benadeel. Selfs wanneer die kind die medikasie staak, mag hy nooit die verlore gewig en groei in lengte inhaal nie. Net so belangrik is die berigte dat vir die meeste kinders die stimulante slegs tydelike ondersteuning bied en nie “behandeling” nie en daarom die gevaar van langtermyn afhanklikheid skep. Studies waarin stimulantgebruikers tot in hulle adolessensie gevolg is, het bevind dat die vooruitsigte vir kinders wat veral met stimulante behandel is, betreklik swak was. In hulle tienderjare het die kinders steeds probleme in hulle gesinne gehad, dikwels antisosiaal opgetree en akademiese en gedragsprobleme in die skool geopenbaar. Mark Stewart, ‘n kinderpsigiater by die Universiteit van Iowa, het tydens ‘n onderhoud opgemerk: As hulle op die ouderdom van ongeveer veertien die medikasie staak, is hulle skielik groot, sterk mense, vir wie dit onnodig was om te leer hoe om hulle eie daaglikse stres te hanteer. Die ouers, wat vergeet het hoe die kind se werklike persoonlikheid was sonder die masker van stimulante raak paniekbevange en vra: ‘Help my, ek weet nie wat om met hom te doen nie. Hy is groter as ek en het die selfdissipline van ‘n sesjarige.’ Op daardie tydstip sien die ouer slegs een oplossing en dit is om die kind terug te plaas op medikasie. Hulle kan die kind slegs hanteer wanneer hy onder die invloed van medikasie is; dit is die verleiding van suksesvolle stimulantbehandeling dat die probleem tydelik opgelos word sonder dat daar van die betrokke persone verwag word om iets te doen. Die grootste beswaar teen stimulante is egter die resultate. Geen positiewe effek op die kinders of op die skoolwerk van kinders is tot dusver ontdek nie. Navorsingstudies, of dit nou oor die kort termyn of lang termyn gedoen is, of dit voldoen aan wetenskaplike kriteria of nie, kom almal tot dieselfde gevolgtrekking: stimulante het geen effek nie, of slegs minimale effek op langtermyn akademiese resultate. Trouens, sommige navorsingstudies het ‘n afname in kinders se akademiese prestasie gevind, en soos Prof Rie van die Universiteit van Ohio opmerk, is die kinders op stimulante “minder deelnemend en entoesiasties, en by verre meer dooierig, sonder ‘n sin vir humor en soos stommerike”. |