Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Voorgrond-Agtergrond-Onderskeiding

Voorgrond-agtergrond-onderskeiding verwys na die vermoë om op bepaalde visuele en/of ouditiewe stimuli van die waarnemingsveld te konsentreer (om dit dus op die voorgrond waar te neem) en tegelykertyd ander omringende stimuli wat ook daarop “aandring” om waargeneem te word, te negeer (en dit dus só as agtergrond waar te neem). ‘n Kind met swak voorgrond-agtergrond-onderskeiding sal heel waarskynlik die volgende simptome openbaar, skryf Dr Nicolette A de Beer in haar boek Lees- en Spellingprobleme: Diagnosering en Remediëring:

  • Dit kom voor asof die kind met ‘n voorgrond-agtergrond-waarnemingsprobleem geneig is om nie op te let nie en ongeorganiseerd is. Hy let wel op, maar gee aandag aan elke stimulus wat sy gewaarwordingsveld binnedring.

  • Aan die ander kant mag dit wees dat hy dit moeilik vind om die fokus van sy aandag te verskuif sodat hy dan geneig is om met dieselfde handeling op ‘n volgehoue manier voort te gaan; hierna word ook verwys as perseverasie.

  • Wat lees betref, mag hy dit moeilik vind om te konsentreer op die woord wat hy besig is om te lees, aangesien hy die menigte ander woorde op die bladsy raaksien.

  • Hy ondervind dikwels ook probleme met die kry van die plek op ‘n bladsy waar hy laas besig was.

  • Die kind mag ook daartoe in staat wees om byvoorbeeld die woord ook in die boonste reël van die bladsy te lees, maar as die woord weer in die volgende paragraaf voorkom, eien hy dit dalk nie omdat dit dan deel van ‘n ander agtergrond vorm.

  • Hy mag dit moeilik vind om die regte letters na mekaar te plaas om ‘n woord te vorm, bv. die kind wat kas in plaas van sak lees, of seil in plaas van siel skryf.

  • Hy slaan dikwels woorde of reëls op ‘n gedrukte bladsy oor sodat wat hy lees nòg vir hom nòg vir enigiemand wat na hom luister, sin maak.

  • ‘n Tipiese fout wat in rekenkunde teëgekom word, is dié van perseverasie bv:

    4 + 2 = 6
    3 + 2 = 6
    2 + 2 = 6
    5 + 2 = 6

    Perseverasie verwys na die neiging om ‘n aktiwiteit waarmee begin is, te voltooi of daarmee voort te gaan ten spyte van die feit dat dit nie meer toepaslik is nie en geen doel meer dien nie. Uit bostaande voorbeeld is dit duidelik dat dié aktiwiteit waarmee begin is, (die verstrekking van die antwoord 6) volgehou is, al was dit nie meer toepaslik nie.

  • Die kind sal moontlik ook nie ‘n optelsom tussen aftreksomme of ‘n deelsom tussen vermenigvuldigingsomme kan raaksien nie.

  • As hy gestuur word om iets uit ‘n kas te gaan haal, kan hy dikwels nie die voorwerp kry waarna hy soek nie, al is dit voor sy oë.