Visuele Motoriese Koördinasie
Visuele motoriese koördinasie stel die kind in staat om bewegings van sy liggaam of dele van sy liggaam uit te voer. Alle bewegings word gelei deur die oë, byvoorbeeld as hy ‘n bal wil vang, gooi of skop. Doeltreffende motoriese koördinasie, m.a.w. die samewerking tussen die oë en die spiere van die liggaam is nodig vir die uitvoer van daaglikse take soos aantrek, huishoudelike pligte, sportaktiwiteite, kunsvlyt of handvaardighede soos handskrif.
As ‘n kind lomp is of teen alles stamp, nie die eenvoudigste daaglikse takies kan verrig nie, dit moeilik vind om aan te trek, knope vas te maak, skoene vas te maak, strikke te knoop, kan dit die gevolg wees van swak ontwikkelde of versteurde motoriese koördinasie. Hy sal ook nie ‘n bal kan vang, gooi of skop nie en kan nie met sy maats meeding op sportgebied nie uit vrees vir kritiek en bespotting oor sy lompheid en onhandigheid. Op skool vind hy dit ook uiters moeilik om te skryf, teken, knip, plak en ander take te verrig, veral waar hy sy vingers moet gebruik. Hy kan ook nie figure nateken of van die bord afskryf nie. Hierdie waarnemingsprobleem bemoeilik sy skoolwerk ten spyte van goeie verstandelike vermoëns.
|