Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Visuele Geheue

Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om 'n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld 'n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.

Verskeie navorsers het beweer dat soveel as tagtig persent van alle leer deur die oë plaasvind, wat beteken dat visuele geheue 'n beslissende aspek van leer vorm.

Kinders, wie se visuele geheue nie goed ontwikkel is nie, vind dit moeilik om 'n reeks visuele waarnemings te herroep. Hulle is dikwels nie daartoe in staat om vir die doeleindes van lees en spelling die globale verskyningsvorm van 'n woord of die volgorde van letters in woorde te onthou nie. Soms mag hulle wel die letters van 'n woord onthou, maar sal dan sukkel met die volgorde van die letters, of hulle mag dalk die eerste letter en beginstruktuur van 'n woord ken, maar kon nie daarin slaag om die verdere detail van die woord hulle eie te maak nie. Ten gevolge daarvan het sodanige leerders dikwels 'n beperkte sigwoordeskat en ondervind daarom ernstige probleme met lees en spelling.

Visuele geheue is een van die vele vaardighede wat by Edublox geoefen en sodoende verbeter word.