Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Pedagogiek

G. pais – kind + agein – om te lei; agogos – leier: Ander benaming vir Opvoedkunde, maar daar word voorkeur gegee aan die begrip pedagogiek vanweë die veralgemening wat die term Opvoedkunde en veral opvoedkundige ondergaan het. Laasgenoemde word gebruik vir bykans elke geleerde, of hy ‘n studie van die Pedagogiek gemaak het al dan nie. In Suid-Afrika as tweetalige land moet daar ook met vertaalbaarheid van begrippe rekening gehou word. Die Engelse woord education kan òf onderwys òf opvoedkunde òf opvoeding beteken. Dit verwar die denker as daar nie duidelikheid bestaan oor watter van die drie bedoel word nie. Die woord pedagogies laat geen twyvel by hulle nie. Opvoedkunde is wel ‘n tipies Afrikaanse woord, maar vanweë ‘n verruimde en dikwels verkeerde betekenis wat in die volksmond daaraan gegee is, het dit noodsaaklik geword om ‘n ander woord te vind wat presies aandui waarvan daar gepraat word en wat terselfdertyd nie in die ander amptelike taal verwarring sal veroorsaak nie. As wetenskap kan die Pedagogiek aanspraak maak op outonomiteit, omdat dit ‘n eie afgebakende studiegebied, eie terminologie en eie metode(s) het.