Opvoeding
Opvoeding is die praktyk die bemoeienis van ‘n opvoeder (pedagoog) met ‘n kind as hulpverlening op sy weg na volwassenheid. Opvoeding word dan beskryf as ‘n doelbewuste, doelgerigte bemoeienis van ‘n volwassene met ‘n nie-volwassene om hom geestelik selfstandig te maak. Daar moet altyd in gedagte gehou word dat die opvoeding die intensionele beïnvloeding van ‘n nie-volwassene (opvoedeling) deur ‘n volwassene (opvoeder) is met die spesifieke doel om veranderinge aan te bring waaraan waarde geheg word. Dit is intensionele handeling wat ‘n bepaalde rigting aan die grootword van die kind wil gee. Dit verg ook van die opvoedeling aanvaarding en dus samewerking. Daar is geen sprake van wetmatige resultate nie. Opvoeding is nie ‘n handeling wat onbepaald voortduur nie, want in dieselfde mate wat die opvoedeling bevoeg is om selfstandige keuses te doen en die verantwoordelikheid vir sy keuses te aanvaar, tree die opvoeder op die agtergrond en laat sy vorming aan die jongmens self oor.
|