| Tuisblad I Meer Oor Ons I Suksesverhale I Artikels I 'Franchise' I Kontak Ons |
|
Tuisblad |
Opvoeder‘n Mens kan ‘n goeie opvoeder wees sonder dat jy ‘n opvoedkundige hoef te wees. Die meeste ouers is nie opvoedkundiges nie, maar tog goeie opvoeders. Die opvoeder is onafhanklik, selfstandig, steungewend en hulpverlenend. Hy is volwasse en as sodanig toerekeningsvatbaar (verantwoordelik). Die opvoeder as hulpverlener aanvaar verantwoordelikheid vir die opvoeding. As dit nie so is nie, kan hy nie help nie. Die sin van die opvoeder se ingryping (of instemming met) in die voortgang van die opvoedeling berus juis daarop dat die opvoeder ‘n beslissing moet neem. Hy moet oordeel of die hulp vir die menswording van die kind betekenis het. Hy word deur die nog-nie van die opvoedeling aangespreek en hy moet antwoord. ‘n Ontwyking van die situasie deur nie in te gryp of in te stem nie, onthef hom nie van sy verantwoordelikheid nie. Wie aan die ander kant deur oorbeskerming ‘n kind die geleentheid misgun om self tot verantwoordelikheidsaanvaarding oor te gaan het ook sy opvoedingsplig versuim. Die verantwoordelikheid van die opvoeder lê juis daarin dat hy die opvoedeling enersyds bewus moet maak van ‘n eie taak en andersyds moet help om hierdie taak met bekwaamheid te verrig. Die hunkering na bekwaamwording word versterk deur die aanvaarding van verantwoordelikheid. Wanneer ‘n deskundige opvoeder (pedagoog) opvoeding as sy beroep en roeping gekies het, word so ‘n persoon ‘n beroepsopvoeder (onderwyser) genoem. |