Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Onderwys

Onderwys is een van die weë van die opvoeding, maar alle onderwys is nie opvoedend nie. Onderwys het meer met die intellektuele vorming te doen. Deur onderwys word kennis en vaardighede bygebring wat as waardevol vir die menslike bestaanwyse geag word. Dit sluit ook kennis aangaande waardes en norme in. Onder die term onderwys moet ook nie net daardie werksaamheid verstaan word wat in die skool gedoen word nie. Dit kan ook buite die skool plaasvind, net soos die skool nie veronderstel is om net onderwys te gee nie, maar om deur die onderwys ook op te voed. Die onderwyser is by uitstek ook opvoeder, omdat hy in sy onderwys dikwels die geleentheid tot opvoeding kry — daarom is dit verkieslik om van onderwysende opvoeding of opvoedende onderwys in die skool te praat. Onderwys sluit nie net intellektuele aktiwiteite in nie — dit raak ook die gemoedslewe van die kind — onderwys is gerig op belewing en waardering. In die praktyk kan vorming, opvoeding en onderwys nie eintlik onderskei word nie — tog is die onderskeiding wenslik, anders word die nie-pedagogiese maklik met die pedagogiese verwar.