Gedrag
Die Psigologie-Woordeboek (Louw et al., 1979) definieer gedrag as enigiets wat ‘n organisme doen. Dit kan dui op ‘n spesifieke respons of handeling of response of handelinge in die algemeen. Hoewel gedrag volgens feitlik algemene beskouing die belangrikste studie-objek van die sielkunde is, word die begrip op verskeie wyses gedefinieer. Sommige psigoloë (bv. radikale behavioriste) bedoel slegs uiterlik waarneembare gedrag, waarby soms ook gedrag wat met apparate meet- of registreerbaar is (soos bv. klierafskeidings of breinritmes) ingesluit word, maar (subjektiewe) sake soos denke en bewuste belewenisse uitgesluit word. Soms val die klem op willekeurige gedrag (waarby motivering of besluite ‘n rol speel), terwyl onwillekeurige response (bv. outomatiese fisiologiese aktiwiteite van die liggaam) uitgesluit word. Die moderne neiging is egter om al bogenoemde as gedrag te beskou wat vir die sielkunde relevant kan wees.
|