Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Feite oor Visuele Geheue

Geheue is die onthou van inligting oor ‘n tydperk. Visuele geheue is ‘n persoon se vermoë om te onthou wat hy gesien het.

Die Meeste Leergestremde Studente het Visuele Geheuetekorte

Die meeste leergestremde studente het ernstige tekorte op die gebied van visuele geheue, sê Addie Cusimano in haar boek Learning Disabilities: There is a Cure. "Visuele geheue behels die vermoë om vorige visuele gewaarwordings en waarnemings te stoor en te herroep op ‘n tydstip wanneer die stimulus wat die oorspronklike waarneming tot gevolg gehad het, nie meer teenwoordig is nie. Dit beteken dat die student in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy gedagte te kan vorm, sodat wanneer die stimulus verwyder word, hy in staat sal wees om dit te visualiseer of die beeld sonder enige hulp te kan herroep. Verskeie navorsers het al daarop gewys dat soveel as tagtig persent van alle leer deur die oë plaasvind, wat beteken dat visuele geheue ‘n deurslaggewende aspek van leer vorm.

"Kinders wat nie hulle visuele geheuevaardighede ontwikkel het nie, vind dit moeilik om ‘n opeenvolging van visuele waarnemings te herroep. Hulle ondervind dikwels probleme met die oorhoofse verskyningsvorm van woorde of die opeenvolging van die letters wanneer hulle lees of spel. Soms onthou hulle die letters wat in ‘n woord voorkom, maar kan nie onthou in watter volgorde hulle verskyn nie, of hulle onthou die eerste letter van ‘n woord en die algemene vorm van die woord, sonder dat hulle enige van die fyner besonderhede, byvoorbeeld die opvolgende letters, kan onthou. Gevolglik slaag sodanige studente nie daarin om ‘n goeie sigwoordeskat te ontwikkel nie, en ondervind hulle dus dikwels ernstige probleme met skryf en spel."

Visuele geheue is ook van groot belang vir prestasie in wiskunde, volgens ‘n studie deur Meghan E. Geiger et al.

Kleindorpse Eskimo Kinders het Uitstaande Visuele Geheue

‘n Visuele geheuetoets is aan 501 stedelike Kaukasiese kinders en aan 125 kleindorpse Eskimo kinders gegee. Die Eskimo kinders se visuele geheue was beduidend beter. Dit is ook bevind dat hulle visuele geheue met toename van ouderdom beduidend verder verbeter het.

In teenstelling tot die opvallende visuele verskille in die stedelike omgewing, is die Noordpoolstreek ‘n wêreld van visuele eenvormigheid. Die plat, monotone toendra en opeengestapelde see-ys bied uiters karige visuele bakens aan wat gedurende die jagtog, waarvan oorlewing gedeeltelik afhanklik is, vir navigasie aangewend kan word. Om te kan jag en weer sy weg terug te vind na sy dorpie, is die Eskimo soms van uiters geringe visuele aanduidings afhanklik, soos rotse in bepaalde posisies of die hoek waarteen die Groot Beer lê op verskillende tye van die dag. Kaukasiërs, wat saam met Eskimo’s gereis het, maak dikwels gewag van hulle buitengewone vermoë om oor ‘n terrein te reis wat arm is aan onderskeidende landmerke, deur noukeurig te let op die kleinste landmerke en deur hulle ruimtelike plasings te memoriseer.