Tuisblad   I   Meer Oor Ons   I    Suksesverhale   I   Artikels   I   'Franchise'   I   Kontak Ons   

Diagnosering van ‘n Leergestremdheid

Wanneer ‘n kind vandag in Amerika as “leergestremd” (learning disabled) gediagnoseer word, word die aanname gemaak dat ‘n neurologiese disfunksie die oorsaak van die kind se skoolprobleme is en niks anders nie. ‘n Leergestremdheid is (volgens hulle) gelyk aan ‘n neurologiese disfunksie. Dit sluit nie kinders in wat leerprobleme het as gevolg van visuele, gehoor- of motoriese belemmerings, of verstandelike vertraging, of emosionele versteuring, of omgewings-, kulturele- of ekonomiese nadele nie. Die rede vir die uitsluiting van hierdie ander faktore is dat ‘n kind wat in Amerika as “leergestremd” gediagnoseer is, die staat se finansiële verantwoordelikheid word.

Die manier waarop ‘n leergestremdheid in Amerika gediagnoseer word, is een van die groot geskilpunte in die veld. Behalwe dat die bestaan van ‘n neurologiese disfunksie nog nooit bewys is nie, is dit onmoontlik om te bewys dat die omgewing geen rol gespeel het in die skep van die leergestremdheid nie.

Alhoewel die term in Suid-Afrika makliker gebruik word om na alle kinders van “normale” intelligensie te verwys wat op skool sukkel, is dit belangrik om na die metodes van diagnosering in Amerika te kyk, aangesien daar bepaalde ooreenkomste is met toestande in Suid-Afrika.

Diskrepansie tussen potensiaal en prestasie

Vir ‘n kind om as “leergestremd” gediagnoseer te word, moet daar ‘n verskil wees tussen sy verwagte skoolprestasie en sy werklike skoolprestasie, of ‘n diskrepansie tussen potensiaal en prestasie.

Ander gestremdhede is gewoonlik maklik sigbaar, maar ‘n “leergestremdheid” word slegs afgelei uit gedrag. Miles maak die stelling dat ‘n persoon dislekties is, mits daar ‘n verskil tussen sy vlak van intelligensie (potensiaal) aan die een kant en sy lees- en spelvermoë (prestasie) aan die ander kant is, en mits hierdie verskil gepaard gaan met ander ondersteunende “tekens”, soos probleme met links en regs, ‘n swak begrip van tyd, omkerings van letters en getalle, letters in die verkeerde volgorde plaas, ensovoorts.

As diskrepansies tussen potensiaal en prestasie ‘n aanvaarbare en geldige metode is om gestremdhede te identifiseer, moet toegegee word dat die moontlikheid dan bestaan dat daar honderde, of selfs duisende ander gestremdhede kan wees wat wag om ontdek te word. Daar moet net begin word om die tersaaklike potensiaal en prestasie met mekaar te vergelyk. Indien ‘n mens byvoorbeeld op grond van ‘n persoon se liggaamsbou, ouderdom, gewig en lengte bereken dat hy 100 meter in 11 sekondes behoort te kan hardloop, en die stophorlosie wys dat hy dit slegs in 14 sekondes kan doen, is hy dan nie hardloopgestremd nie? Is daar dan nie ook ‘n diskrepansie tussen sy verwagte hardloopprestasie — sy potensiaal — en sy werklike prestasie nie? Natuurlik is ‘n hardloopgestremdheid belaglik — net soos die idee van ‘n leergestremdheid!

‘n Verdere twispunt is hoe groot die diskrepansie moet wees voordat daar van ‘n leergestremdheid sprake kan wees. Die volgende voorbeeld behoort die onhoudbaarheid van die hele kwessie te illustreer: ‘n Paar jaar gelede het New York sy regulasies verander en ‘n 50% diskrepansie as norm aanvaar. ‘n 50% diskrepansie beteken dat ‘n leerder die helfde so goed presteer as wat van hom verwag word. Die aantal kinders wat as leergestremd gediagnoseer was, het met die nuwe regulasie verminder van 28 000 tot 12 167, en sodoende is byna 16 000 kinders van hulle “gestremdheid” genees. ‘n Verdere implikasie van hierdie nuwe regulasie was dat ‘n kind met ‘n normale intelligensie ten minste twee jaar op die skoolbanke moet deurbring voordat ‘n een-jaar diskrepansie (50%) bereken kan word en voordat die kind hulp mag ontvang.

Die IK-toets as belangrikste kriterium

Die belangrikste kriterium wat toegepas word om ‘n kind se verwagte prestasie te bepaal, is die IK. Die doel van ‘n IK-toets is om die intelligensie van ‘n kind te meet. Die vraag is egter nou: Wat is intelligensie? Is dit die vermoë om goed te presteer op skool? Is dit die vermoë om goed te kan lees en spel?

Of is die volgende mense intelligent?

  • Die mediese spesialis wat drie pakkies sigarette per dag rook?
  • Die Nobel-pryswenner wie se huwelik en persoonlike lewe in ‘n warboel is?
  • Die uitvoerende direkteur wat homself met groot vernuf opgewerk het tot die hoogste posisie, en wat ook ‘n hartaanval gekry het vir sy moeite?
  • Die briljante en suksesvolle komponis (Mozart) wat sy geldsake so swak gehanteer het dat hy gedurig voor sy krediteure moes vlug?

Die probleem is dat die term intelligensie nog nooit bevredigend gedefinieer is nie, en daarom weet niemand eintlik wat ‘n IK-toets veronderstel is om te meet nie. Tog word duisende kinders se toekoms bepaal deur hierdie toets, ook in Suid-Afrika.

Die volgende aanhaling kom uit ‘n advertensie wat in Augustus 1979 deur Psychology Today in die New York Times geplaas is:

In the chaos of controversy, the standard I.Q. exam is flunking the test.

Many educational psychologists feel that I.Q. testers have failed to answer two all-important questions.

What is intelligence? What have I.Q. tests actually measured?

Yale psychologist Robert Sternberg says in P. T. that psychologists know ‘almost nothing about what it is that they have been measuring. The tests have proved overall to have only low to moderate power to predict such things as future job performance, income and status, or overall happiness and adjustment’.

Die onbetroubaarheid van ‘n IK-meting is reeds deur verskeie navorsers bewys. Twee IK-metings kan soveel as 15 punte verskil afhangende van die toets wat gebruik word, terwyl die gemoedstoestand van die kind tydens afname en die aanbieding en interpretasie van die betrokke toetsafnemer die IK-metings kan beïnvloed.

Dieselfde geld vir ander diagnostiese toetse. Dit is skrikwekkend om te dink dat verreikende besluite — wat dikwels slegs op onbetroubare toetsresultate gebaseer is — somtyds oor kinders geneem word.