| Tuisblad I Meer Oor Ons I Suksesverhale I Artikels I 'Franchise' I Kontak Ons |
|
Tuisblad |
Belangrikheid van Lees
In hierdie moderne eeu waarin ons onsself bevind, is belesenheid 'n norm waaraan die mens gemeet word. Hoe meer gevorderd 'n samelewing raak, hoe belangriker raak leesvaardighede, juis omdat gevorderde tegnologie verhoogde vlakke van opleiding vereis waarin doeltreffende lees 'n kardinale rol speel. Ontwikkeling op verskeie gebiede is dus direk afhanklik van die mens se vermoë om doeltreffend te lees. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat ’n persoon hom/haar baie moeilik by die samelewing kan aanpas sonder die vermoë om goed te lees, juis omdat lees een van die doeltreffendste middels is waardeur die mens hom/haarself nie alleen in die verlede kan inleef nie, maar ook die hede kan verstaan. Lees stel ons in staat om tyd te manipuleer, en om onsself bloot te stel aan gebeure en idees. Lees kan dus beskou word as die primêre metode waardeur inligting versamel word en kennis opgedoen word. Vir 'n volwassene om 'n goeie leser te wees, wat vinnig én met begrip kan lees, moet leesonderrig reeds in die onderwysgrondslagfase, en dan meer spesifiek, in die aanvangsleesstadium, op die doeltreffendste wyse aangebied word. Reeds in die eerste skooljaar word daar van leerders verwag om te leer om vloeiend en met begrip te lees. Namate leerders na hoër grade beweeg, word die eise wat aan hul leesvermoë gestel word, steeds groter.1 Maar lees is veel meer as net die herkenning van woorde. Dit is 'n holistiese proses wat die kind in totaliteit betrek. Reeds so lank gelede as in 1941 het Charters die belangrikheid van lees soos volg uitgelig: Reading is man’s most potent skill. Without it his world is circumscribed by his neighbours. All he learns is what he picks up in conversations, information garbled in its transmission, delayed by the slow seepage of news through word of mouth... the world of newspapers, books, magazines and bulletins is closed against him by the massive walls of ignorance. Reading is the keystone of the arch of intelligence that the schools have been established to construct. Ongelukkig is dit ‘n realiteit dat baie leerders onder swak leesvaadighede gebukkend gaan. Volgens die Essi-Leestoets lees 23% van alle Graad 1 tot Graad 7 leerders swak tot baie swak; 'n verdere 17,5% se leesvermoë is ondergemiddeld. Gebrekkige leesvaardighede, veral in die grondslagfase, kan ‘n kind se skoolvordering beduidend beïnvloed. Leesagterstande by leerders kan aanleiding gee tot probleme soos wangedrag, skolastiese onderprestasie, onderbenutting van leerpotensiaal en die onvermoë om 'n betekenisvolle betrekking te bekom.
1.) Venter, A., Die Ontwerp, Implementering en Evaluering van ‘n Multisensoriese Leesprogram vir Graad 3-leerders in Heidedal (UOVS: Proefskrif, 2007). |